Wees ‘n Samgar (1)

2017-11-02
Rigters 3:31 NLV

Samgar word net twee keer in die Skrif genoem, en sy verhaal beslaan maar drie reëls en twee verse. Sy impak was egter wonderbaarlik. Dis ook ‘n uitdaging aan elkeen van ons wat dink, ‘God sal nooit iemand soos ek gebruik nie.’ Samgar mag dalk die minste gekwalifiseerd gewees het om Israel uit die hande van die Filistyne te red. Eerstens, was hy heel moontlik nie eers ‘n Israeliet nie. Sy oorspronklike naam was Horities. Hy kon homself op ‘n dosyn verskillende maniere verskoon het. ‘Ek het nie die regte wapen nie. Ek kan dit nie alleen doen nie. Hierdie is nie eens my mense nie.’ As jy ‘n verskoning soek, sal jy altyd een kry. Wanneer dit by verskonings kom, is ons oneindig kreatief. Wat as ons egter daardie kreatiwiteit gebruik om oplossings in plaas van verskonings te kry? God kan ons dan, net soos vir Samgar, as ‘n instrument gebruik om sy doelwitte te vervul. Wanneer God jou gees aanraak of jou hart beweeg, kan jy nie terugsit nie, jy moet aksie neem. Wanneer jy dit doen, kan dit ‘n bepalende oomblik in jou lewe wees. Moenie jou oor die resultate bekommer nie. As dit die regte ding is, is die resultate God se verantwoordelikheid. Fokus daarop om die regte dinge vir die regte redes te doen en moenie die leuen glo dat dit nie gedoen kan word nie! Ja, jy sal al jou kragte daarvoor moet gebruik, maar jy kan alle dinge doen deur Christus wat jou krag gee (sien Filippense 4:13). ‘n Poging wat misluk is nie ‘n mislukking nie. Mislukking is as jy nie eens probeer nie. As jy probeer, is jy suksesvol in God se oë. Gryp dus jou drywerstok en begin!

Sielskos: Jes 38-41; Joh 6:60-71; Ps 96; Spr 28:17-20