Wetenskap bewys dat die Bybel waar is (1)

2017-08-06
Genesis 1:1 NLV

Om te sê dat die wetenskap en die Bybel in teenstelling met mekaar is, is eenvoudig nie waar nie. As daar selfs net een kans in ‘n miljoen is dat God, die hemel en die hel waar is, sal jy dit nie wil weet nie? Jy gaan immers eendag sterf. Wat dan? Ons kinders en kleinkinders word boonop al hoe meer aan ongelowige opvoeders blootgestel. Wil jy nie graag in staat wees om hulle vrae te beantwoord as hulle van die skool of universiteit af kom en hulle in die regte rigting stuur nie? Wel, raai wat? Wetenskap bewys dat die Bybel waar is! Kom ons praat vir die volgende paar dae daaroor. 1) Die Bybel sê vir ons dat die aarde in die ruimte dryf. Daar was ‘n tyd dat mense geglo het dat die aarde op ‘n groot dier of reus rus! Vyftien honderd jaar voor Christus, het die patriarg Job egter gesê, ‘God… hang die aarde op aan niks’ (Job 26:7 NLV). Wetenskaplikes het eers teen 1650 nC ontdek dat die aarde aan niks hang nie. 2) Die Bybel sê vir ons dat die aarde uit atome bestaan. ‘Omdat ons glo, verstaan ons dat God, deur net ‘n woord te spreek, die ganse heelal geskep het. Dit wat ons nou kan sien, het dus nie uit sigbare dinge ontstaan nie’ (Hebreërs 11:3 NLV). Eers onlangs het wetenskaplikes bevind dat alles om ons uit dinge wat ons nie kan sien nie, bestaan – naamlik onsigbare atome. Tog het die Bybel, wat meer as tweeduisend jaar terug geskryf is, gesê dat dit so is.

Sielskos: Jos 1; Ps 27:11-14; 2 Tim 2:1-13