Denke gebaseer op skaamte (1)

2017-08-02
Romeine 12:2 NLV

Wanneer jy fisies, emosioneel of seksueel mishandel is, ondermyn dit jou selfwaarde. Jy dink, ‘As iemand dit aan my kan doen, moet daar iets met my verkeerd wees.’ Jy voel asof jou siel vuil is, asof jy gebreekte goedere is. Jy is nie! Hier is twee Skrifgedeeltes van God se lippe na jou hart toe: ‘…Ek het jou lief met ‘n liefde wat nooit ophou nie. Ek trek jou met troue liefde na My toe. Ek sal jou weer herbou soos jy vroeër was…’ (Jeremia 31:3-4 NLV). ‘Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het… Ek gaan iets nuuts doen! Dit het alreeds begin gebeur! Sien julle dit nie? Ek gaan ‘n pad maak vir my volk… Ek maak vir hulle riviere in die woestyn!’ (Jesaja 43:18-19 NLV). Dit wat met jou gebeur het, is sleg, maar jy is nie sleg nie. Vandag sê God vir jou: ‘…Moenie bang wees nie, want Ek het jou verlos. Ek het jou by jou naam geroep. Jy is Myne. Wanneer jy deur diep water gaan, sal Ek by jou wees. Wanneer jy deur riviere gaan, sal hulle jou nie wegspoel nie. Wanneer jy deur vuur stap, sal jy nie verbrand nie…Want Ek is die Here jou God…’ (Jesaja 43:1-3 NLV). Skaamte en depressie gaan hand aan hand. Terwyl dokters medikasie vir jou depressie kan voorskryf, is daar nie ‘n kuur vir skaamte nie – behalwe die medisyne van God se Woord. In plaas van om jou gedagtes en emosies te glo, staan op God se Woord, ten spyte van hoe jy voel. Om skaam te wees vir wie jy is, is soos om aanhoudend gestraf te word – behalwe dat jy dit aan jouself doen. Wat is die oplossing? ‘…laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe…’

Sielskos: 1 Joh 3:11-5:21; Mark 1:21-34; Ps 78:56-64; Spr 20:7-10