Hoeveel tyd het jy?

2017-07-17
Psalm 39:5 NLV

Nadat hy sy pasiënt ondersoek het, het die dokter vir hom gesê, ‘Ek het slegte nuus vir jou en ek het baie slegte nuus vir jou.’ Geskok het die pasiënt gevra, ‘Wat is die slegte nuus?’ Die dokter het geantwoord, ‘Jy het vier-en-twintig uur oor om te lewe.’ Die pasiënt het gesê, ‘Wel dit kan seker nie erger gaan nie, so wat is die baie slegte nuus?’ Die dokter het geantwoord, ‘Die baie slegte nuus is dat ek jou gister al moes gebel het!’ Op ‘n ernstiger noot, die Bybel sê, ‘Die getal van ons jare kan 70 wees, of as ons sterk is, 80… Die lewe is gou verby, en ons bestaan nie meer nie’ (Psalm 90:10 NLV). Die gemiddelde man lewe tot sy middelsewentigs en die gemiddelde vrou tot haar middeltagtigs. As jy dus ‘n man is, trek jou ouderdom van vyf-en-sewentig af. As jy ‘n vrou is, trek jou ouderdom van vyf-en-tagtig af. Maal dan die getal jare wat jy oorhet met 365, en dis hoeveel dae jy oorhet. Moet egter nie daar ophou nie. Neem papier en sny dit in klein vierkante op. Nommer elkeen van hulle en sit dit in ‘n boks. Dan sal jy besef dat jou dae genommer is. Neem elke oggend ‘n vierkant uit die boks, frommel dit op en gooi dit in die asblik. Hierdie oefening sal jou daaraan herinner dat jou dae korter word en dat die tyd besig is om uit te hardloop. Wat jy ookal beplan om vir jouself, jou familie en vriende en die koninkryk van God te doen, sal ‘n nuwe dringendheid kry. Die digter Charles Thomas Studd het geskryf: ‘Only one life, ’twill soon be past; only what’s done for Christ will last.’

Sielskos: 2 Sam 17:14-19:43; Mat 26:26-35; Ps 133; Spr 18:17-20