Onder watter ‘wet’ val jy?
2017-07-15Romeine 8:2 DB
Jy sê, ‘Ek skiet so tekort ten opsigte van God se standaarde. Sal daar ooit ‘n tyd kom wat my ou vleeslike natuur my nie meer sal probeer aftrek nie?’ Daar is slegte nuus en daar is goeie nuus. Die slegte nuus is dat, net soos die wet van swaartekrag altyd in werking is, net so wil jou vleeslike natuur altyd op die ‘wet van sonde’ reageer. Die goeie nuus is, jy kan toegang tot ‘n hoër wet kry en daarin lewe. Dit is die wet van die Gees in Christus Jesus en dit skakel die ‘neerdrukkende wet van die sonde en die dood’ uit. Die wet van swaartekrag sê dat dit wat opgaan weer moet afkom. Wanneer jy egter in ‘n vliegtuig is, is ‘n ander wet van toepassing – die wet van aërodinamika. Dit werk as volg: Wanneer ‘n vliegtuig teen ‘n sekere spoed met ‘n sekere dryfkrag beweeg, is dit in staat om bo swaartekrag uit te styg. Dit beteken egter nie dat die wet van swaartekrag nie meer in werking is nie. Kry jy die idee? Jy vra, ‘Wat is die wet van die Gees?’ Die antwoord is: Wanneer jy in die Gees bly en op sy krag eerder as jou eie staatmaak, wat beteken dat jy sensitief is vir sy leiding en aan sy opdragte gehoorsaam is, word jy nie meer deur die ‘neerdrukkende wet van die sonde en die dood’ beheer nie. Dit gaan dan nie meer daaroor om harder te probeer nie, maar om meer te steun op God se Gees wat in jou bly en krag uit Hom te put om ‘n oorwinnende lewe te lei.
Sielskos: 2 Sam 14:21-17:13; Mat 26:14-25; Ps 123; Spr 18:13-16