God se voetspore
2025-10-15Psalm 77:20 NLV
Die Psalmdigter het geskryf: ‘U pad loop deur die see, u weg was deur magtige waters, maar u spoor kon niemand sien nie’ (vers 20 NLV). Wanneer jy nie God se ‘voetspore’ kan sien nie, roep Hy jou om deur geloof en nie deur sig nie, te loop (sien 2 Korintiërs 5:7).
Joni Eareckson Tada het geskryf: ‘Oor ‘n paar maande van nou af sal ek ‘n herdenking vier wat ‘n hartverskeurende verhaal van verlies en ‘n onvergelykbare getuienis van God se getrouheid weerspieël. Op daardie herdenking sal ek al vir 47 jaar in ‘n rolstoel wees – skaars ‘n hartklop in die geskiedenis en niks in vergelyking met die ewigheid nie. Vir ‘n vlees-en-bloed, aardbewoner is 47 jaar egter ‘n lang tyd. Enigiemand wat ly wil die versekering hê dat dinge op die een of ander manier op die ou einde sal uitwerk.
In Romeine 8 vind ons die versekering: ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe’ (vers 28 NLV). God is so oppermagtig in beheer van die wêreld dat alles wat ons lewens raak, so georden is dat dit vir ons beswil is. Dit is waar of ons kanker, gebroke verhoudings, werksverlies, bankrotskap of selfs ‘n gebreekte nek op die ouderdom van 17, in die gesig staar.
Die hoop van die gelowige is nie dat ons nie ‘slegte dinge’ sal oorkom nie, maar dat God ons swaarkry in ‘n instrument van sy barmhartigheid ten goede van ons, sal omskep. Ons lyding is min en kort in vergelyking met die heerlikheid wat in die hemel vir ons wag. Verduur dus die hartseer en swaarkry ‘n bietjie langer. Hierdie dinge verbreed jou siel se kapasiteit vir vreugde, aanbidding en diens in die hemel.’
Sielskos: Nahum 1-3; Joh 4:39-54; Ps 41; Spr 24:5-6