Hanteer mense wat stres veroorsaak
2025-10-12Romeine 12:18 NLV
Dis soms onmoontlik om in vrede met sekere mense saam te leef. Die apostel Paulus het hierdie realiteit besef en in wese gesê: ‘Doen alles wat jy kan om in vrede met hulle te leef.’ Behalwe vir die verbondsverhouding wat jy met jou man of vrou het en jou verantwoordelikheid teenoor jou kinders sal jy, as jy wys is, jou ander verhoudings biddend evalueer en weet hoeveel tyd jy daarin moet belê.
Byvoorbeeld: Indien jy ‘n naby familielid het wat altyd argumenteer of negatief is, moenie jouself in ‘n posisie plaas waar jy op ‘n gereelde basis met hom/haar te doen moet kry nie. Feestye saam mag dalk genoeg wees! Dieselfde is waar van vriende. Diegene wat skinder, ander veroordeel, met jou kompeteer of snydende opmerkings maak moet jou selde beskikbaar vind – tensy die Here dit op jou hart druk om tyd met hulle te bestee en sy Woord met hulle te deel.
Daar word nie van jou verwag om tyd saam met mense wat jou vrede steel, deur te bring nie. Salomo het gesê: ‘Moenie vriende maak met ‘n humeurige mens nie…’ (Spreuke 22:24 NLV). Paulus het gewaarsku: ‘…Wees op die uitkyk vir mense wat verdeeldheid veroorsaak… Vermy hulle’ (Romeine 16:17 NLV).
Wanneer jy in die geselskap van iemand is wat stres veroorsaak, vra jouself die volgende vrae af: ‘Sal geduld binne-in my groei as ek hierdie situasie verduur eerder as om te vertrek? Hoekom stres hierdie persoon se optrede my? Is dit omdat dit my eie gedrag weerspieël? Hoekom gaan ek voort om met hulle te kommunikeer?’ Bid die volgende: ‘Vader, ek het U nodig om my te help om te onderskei hoe om mense wat stres veroorsaak te hanteer, sodat u liefde voortdurend deur my kan skyn.’
Sielskos: Eks 34:29-35; Mark 9:2-27; 2 Kor 3:7-18