Kommunikasie wat by die huis werk
2025-10-11Efesiërs 4:15 NLV
Virginia Satir, ‘n terapeut, het vasgestel dat die meeste gesinne vyf style van kommunikasie het.
1) Sommige gesinslede is vredemakers. Hulle maak seker dat almal oor die weg kom en verminder stres deur te sê wat ander wil hoor en wat hulle minder ontstel.
2) Ander is blameerders: vingerwysers, foutvinders, gretig om te bewys dat hulle reg en jy verkeerd is. Wanneer jy dan die skuld aanvaar, regverdig en bemagtig jy hulle.
3) Satir beskryf ander familielede as super-redelik. Hul leuse is: ‘Stem altyd saam met wat ander mense sê en verberg jou ware gevoelens.’ Dit is hoe hulle keer dat hulle seerkry. Hulle praat nie uit hul hart uit nie en herlei die gesprek na ‘veilige’ onderwerpe.
4) Ander familielede kies ontoepaslikheid, wat die gesprek van ongemaklike en potensieel bedreigende onderwerpe weglei. Hulle praat net oor dinge wat nie met dit wat aangaan, verband hou nie.
5) Die laaste kommunikasiestyl is konsekwentheid. Konsekwente mense sê dinge soos dit is. Daar is geen verbloemde gevoelens, geen dubbelsinnige praatjies en geen voorgee nie. Wanneer hulle kwaad is, sê hulle hulle is kwaad. Hulle is geloofwaardig; jy kan hulle verstaan en glo. Geen onderwerpe hoef ontduik te word en geen vrae moet vermy word nie. Enigiets en alles kan bespreek word en almal se mening word gerespekteer.
Ralph Waldo Emerson het eenkeer gesê: ‘Niks verbaas mense soveel soos gesonde verstand en ‘n reguit handelswyse nie.’ Dit is ‘n skriftuurlike, waarheidsgebaseerde kommunikasiestyl wat werk.
Sielskos: 2 Sam 20:1-22:30; Joh 4:1-12; Ps 100; Spr 23:22-28