‘n Lewensverrykende gewoonte

2025-10-07
Psalm 55:17 KAB23

‘n Antieke Europese klooster wat op ‘n hoë krans met ‘n diepe afgrond gebou is, kon slegs deur middel van ‘n mandjie, wat deur ‘n enkele tou wat deur ‘n reeks katrolle beheer is, bereik word. Op ‘n dag het ‘n besorgde besoeker opgemerk dat die tou op verskeie plekke uitgerafel is. In die hoop om sy angs te verlig, het hy die monnik wat die rit met hom gedeel het gevra: ‘Hoe gereeld vervang julle die tou?’ Onverstoorbaar het die monnik geantwoord: ‘Wanneer dit breek!’

Net soos masjinerie, gesondheid en verhoudings voortdurende aandag en instandhouding vereis, moet jy dieselfde met jou geestelike lewe doen. Roetine en herhaling kan geestelike lewensredders wees. Geestelike uitnemendheid is nie ‘n daad nie; dis ‘n gewoonte! Kyk na gebed en meditasie. Dit is veronderstel om gewoontes te wees wat jy elke dag beoefen; dis nie veronderstel om die uitsondering te wees nie. Moenie wag totdat die tou breek voor jy dit in jou lewe inkorporeer nie! Gebed moet eerstens ‘n geestelike dissipline wees. God se Woord bepaal dat dit nie net bloot ‘n daad nie, maar ‘n lewenslange gewoonte moet wees.

Paulus beveel ons om ‘…alles deur gebed en smeking [te doen]. Laat die Gees julle elke keer in die gebed lei…’ (Efesiërs 6:18 NLV). ‘Moenie ophou bid nie’ (1 Tessalonisense 5:17 NLV). Die Psalmdigter Dawid het hierdie beginsel verstaan. ‘Ek sal saans en môre en middag bid en hardop roep…’ Daniël het ook hierdie beginsel beoefen: ‘…Hy het daar drie maal ‘n dag op sy knieë gegaan om vir sy God te bid en om Hom te loof, soos hy gewoond was om te doen’ (Daniël 6:11 NLV). Dis ‘n roetine wat kragtig en effektief vir beide mans was – en dis een wat ook vir jou sal werk!

Sielskos: 2 Sam 7:18-11:27; Joh 2:1-11; Ps 110; Spr 23:6-9