Eenduisend vierhonderd en veertig

2025-10-06
Psalm 90:12 NLV

‘n Vrou het een keer ‘n droom gehad waarin ‘n engel vir haar hierdie boodskap gegee het: ‘As ‘n beloning vir jou deugde, sal die bedrag van $1440 elke oggend in jou bankrekening inbetaal word. Hierdie bedrag kom met net een voorwaarde. Aan die einde van elke werksdag sal enige balans wat nie gebruik is nie, gekanselleer word. Dit sal nie na die volgende dag oorgedra word of rente verdien nie. Elke oggend sal ‘n nuwe $1440 aan jou gekrediteer word.’

Die droom was so helder dat sy toe sy wakker word, die Here gevra het om te verduidelik wat dit beteken. Hy het haar laat verstaan dat sy elke oggend 1440 minute – die aantal minute in ‘n vier-en-twintig-uur-dag – ontvang. Wat sy met hierdie deposito van tyd doen, is belangrik, want 1 440 minute per dag was al wat sy ooit sou ontvang! Jy het ‘n soortgelyke rekening. Aan die einde van elke dag behoort jy met vreugde en tevredenheid te kan terugkyk en sien dat daardie goue minute verstandig belê is.

Iemand het gesê: ‘Tyd is God se gawe aan jou, maar wat jy egter met jou tyd doen, is jou gawe aan God.’ Dis waar. Die Psalmdigter het geskryf: ‘Die getal van ons jare kan 70 wees, of as ons sterk is, 80. Maar selfs die beste daarvan is vol swaarkry en verdriet. Die lewe is gou verby, en ons bestaan nie meer nie… Leer ons ons dae só gebruik dat ons wysheid kan bekom… En mag die Here ons God sy goedheid aan ons bewys en die werk van ons hande bevestig…’ (verse 10, 12, 17 NLV).

Sielskos: Lev 23:33-44; Joh 7:1-40; Sag 14:16-21; Heb 11:8-16