Verstaan hoe God se liefde werk

2025-10-04
1 Johannes 4:18 NLV

God het jou te alle tye onvoorwaardelik lief – maar jy moet sy liefde ontvang. Eers wanneer jy dit doen, kan jy God terug liefhê en sy liefde aan ander bewys. Met ander woorde, jy kan nie dit wat jy nie het, weggee nie! ‘…[God] het sy liefde mos in ons harte uitgestort deur sy Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het’ (Romeine 5:5 NLV). Dit beteken dat wanneer jy jou lewe aan Christus wy, die Heilige Gees in jou hart kom bly en God se liefde saam met Hom bring.

Die vraag is: Wat doen jy met daardie liefde? Verwerp jy dit omdat jy dink dat jy nie goed genoeg is nie? Johannes sê: ‘Ware liefde het nie plek vir vrees nie; volwasse liefde dryf die vrees uit…’ (1 Johannes 4:18 NLV).

Een skrywer sê: “Ek het jare lank probeer om in ‘volmaakte liefde’ te wandel en het daagliks daarin misluk. Ek het gedink volmaakte liefde verwys daarna om ander mense perfek lief te hê. Toe het God egter vir my gewys dat die enigste ‘volmaakte liefde’ sy liefde vir my was – Hy is die enigste een wat perfek kan liefhê! Toe dit vir my duidelik begin word het, het ek begin bely: ‘Ek is nie lief vir alles wat ek doen nie, maar ek is lief vir myself soos ek is, want God het my so lief. Ek weet ek moet verander en ek wil verander. Trouens, ek glo dat God my daagliks verander. Ek sal egter intussen dit wat God aanvaar, nie verwerp nie. Ek sal myself aanvaar soos ek tans is, met die wete dat ek nie altyd so sal bly nie.'”

God het jou lief – glo dit en ontvang dit!

Sielskos: 2 Sam 3:22-7:17; Joh 1:43-51; Ps 23; Spr 23:4-5