Hou aan beweeg

2025-10-02
Hebreërs 12:2 AFR83

‘n Sondagskoolonderwyser het die verhaal van hoe Jona ongehoorsaam aan God was en deur ‘n groot vis ingesluk is, aan haar klas vertel. Vir drie dae lank het Jona uit die dieptes van die oseaan uitgeroep en na drie dae en drie nagte het God die vis beveel om hom op die strand uit te spoeg. Aan die einde van die les het die onderwyser die kinders gevra wat hul geleer het en ‘n klein seuntjie het uitgeroep: ‘Dit wys jou net; you can’t keep a good man down!’

Jy verdrink nie deur in die water te val nie; jy verdrink deur in die water te bly. Dawid het gesê: ‘Die Here bepaal die rigting van die mens… Al sou so een struikel, hy sal nie val nie, want die Here hou sy hand vas’ (Psalm 37:23-24 NLV).

Wanneer jou drome en planne in die wiele gery word, bly gefokus en ‘…hardloop met volharding…’ (Hebreërs 12:1 NLV). Wanneer jy op iets fokus, bemagtig jy dit en gee dit momentum; dis hoekom Satan wil hê dat jy op dinge wat nie saak maak nie, moet konsentreer.

Jesus het verder as die kruis gekyk. Hy het op dit wat aan die ander kant van die kruis gelê het, gefokus. Die Bybel sê vir ons om ons oë op ‘…Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof…’ te vestig. Onthou, God betaal nie weekliks nie; Hy betaal aan die einde. Jy sal jou beloning volgens hoe jy geëindig het, nie volgens hoe jy begin het nie, ontvang. Paulus sê: ‘Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan’ (2 Korintiërs 4:17 NLV). Bly dus gefokus en hou aan beweeg!

Sielskos: Ef 4:17-6:24; Joh 1:14-28; Ps 29; Spr 22:26-29