Raak van die mislukkingsindroom ontslae
2025-03-02Romeine 8:37 NLV
Wanneer jy mishandel, verwerp en verlaat is, is dit maklik om skaam te word en met ‘n slegte selfbeeld op te eindig. Die duiwel weet dit, dus sal hy jou selfvertroue op elke moontlike geleentheid aanval. Hy wil hê dat jy moet glo dat jy ‘n mislukking is, want sonder selfvertroue sal jy nooit die moed hê om die dinge wat jy werklik wil doen, aan te pak nie. Hy wil nie hê dat jy God se plan vir jou lewe moet vervul nie. As hy jou kan laat glo dat jy nie daartoe in staat is nie, sal jy nie eens probeer om iets wat die moeite werd is aan te pak nie. Wanneer jy egter wel ‘n poging daartoe aanwend, sal jou vrees vir mislukking jou nederlaag verseël, wat jy weens ‘n gebrek aan selfvertroue waarskynlik van die begin af verwag het.
Dit word dikwels ‘n ‘mislukkingsindroom’ genoem. Jy misluk as gevolg van verkeerde oortuigings en jy hou aan om verkeerde oortuigings te hê omdat jy misluk. Dis moeilik om te weet watter een eerste gekom het, maar jy bevind jouself in ‘n strik waaruit jy nie kan ontsnap nie.
Wat is dan die antwoord? As verloste kind van God, sê die Bybel dat jy ‘in Christus’ is. Jesus het Satan oorwin en oor hom by die kruis getriomfeer. Omdat jy ‘in Christus’ is, is sy oorwinning jou oorwinning. Jy kan uit die mislukkingsindroom breek en begin om sukses in die lewe te behaal, want: ‘Tog is ons ten spyte van al hierdie dinge besig om ‘n superoorwinning te behaal – oorwinnaars deur Christus wat sy liefde so duidelik aan ons bewys het.’ Ongeag wat in die verlede met jou gebeur het, het God ‘n wonderlike toekoms vir jou in gedagte.
Sielskos: Eks 20:7; Lev 24:10-16; Fil 2:5-11