Jy is in die skool van geloof
2025-02-28Romeine 1:17 AFR53
Daar is ‘n verhaal van ‘n ma wat vir haar seun gesê het: ‘Dis tyd om op te staan en skool toe te gaan.’ Hy het geantwoord: ‘Ek gaan nie vandag skool toe nie!’ Sy ma het gevra: ‘Hoekom nie?’ Hy het geantwoord: ‘Want die kinders haat my en die onderwysers kritiseer my. Hoekom moet ek skool toe gaan en dit alles deurmaak?’ Sy ma het geantwoord: ‘Want jy is die skoolhoof!’
Die Christelike lewe is ‘n skool. Paulus beskryf elke graad om van ‘geloof tot geloof’ te gaan. In die skool van geloof is die Heilige Gees die onderwyser en die Bybel is die handboek. As jy goed studeer en op jouself toepas, kan jy deur die grade op beweeg. Indien jy dit nie doen nie, sal jy in dieselfde graad bly totdat jy die lesse geleer het en die toetse kan slaag. Jy is soos die dame wat geskerts het: ‘My gunsteling graad was graad vyf. Drie van my gelukkigste jare het ek in daardie graad deurgebring!’
Tensy jy wil hê dat dit jou lot moet wees, lees hierdie woorde en neem dit ter harte: ‘Werk hard sodat God jou kan goedkeur. Wees ‘n goeie werker, een wat nie nodig het om hom te skaam nie; iemand wat die woord van die waarheid reg verduidelik’ (2 Timoteus 2:15 NLV).
As jy God wil ken, moet jy Hom in die bladsye van sy Woord ontmoet. Jy sal ook met die Heilige Gees gevul moet bly: ‘Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ‘n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Gees, dit aan ons gee’ (2 Korintiërs 3:18 NLV).
Sielskos: Eks 19-21; Luk 12:49-59; Ps 70; Spr 6:26-28