Wees Bybels; wees vrymoedig!
2025-02-27Daniël 11:32 NLV
Die Bybel sê: ‘…Dié wat in hulle God glo, sal egter sterk staan en doen wat reg is.’ Hierdie Skrifgedeelte is nie ‘n lisensie om arrogant of onsensitief teenoor ander mense se gevoelens te wees, of ‘n oordrewe opinie van jouself te hê nie. Dit beteken dat wanneer jy God se Woord, God se maniere en God se wil verstaan, sal jy vertroue hê in wie jy is en in dit wat God jou geroep het om te doen.
Wanneer laas het jy iets vir die eerste keer probeer doen? Jy sê: ‘Ek is bang ek misluk.’ Almal misluk; die wenners is diegene wat aanhou om weer op te staan. Blykbaar het sommige mense in die Nuwe Testamentiese kerk gedink dat Timoteus te jonk was om in die leierskap te dien, dus het Paulus hom aangemoedig om vrymoedig in sy roeping te wees: ‘Timoteus, ek dank God vir jou… Ek weet dat jy die Here opreg vertrou, want jy het dieselfde geloof as jou ma, Eunice, en jou ouma Loïs. Dit is waarom ek jou daaraan herinner om die geestelike gawe, wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ‘n vuur aan te blaas. Want God het ons nie ‘n gees van skugterheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing. Jy moet dus nooit skaam wees om ander van ons Here te vertel nie… Met die krag wat God jou gee, moet jy gereed wees om saam met my vir die uitdra van die Goeie Nuus te ly’ (2 Timoteus 1:3, 5-8 NLV).
God het nie belowe dat jy nie swaarkry sal ervaar wanneer jy dit doen waarvoor Hy jou geroep het nie, maar Hy het belowe dat jy sal slaag. Die woord vir jou vandag is dus – wees Bybels; wees vrymoedig!
Sielskos: Eks 16-18; Luk 12:35-48; Ps 66:13-20; Spr 6:23-25