Herbou jou huwelik (4)
2024-10-07Spreuke 18:22 NLV
Miskien het jy al die grappie gehoor van die dame wat vir haar vriendin gesê het: ‘Ek het nie geweet wat ware geluk is totdat ek met my man getrou het nie, en nou is dit te laat.’ Dit hoef egter nie jou verhaal te wees nie. Jy kan jou huwelik deur God se wysheid, liefde en genade herbou. Om dit te doen, moet jy die kuns leer om jouself toe te laat om weerloos, deursigtig en gereed te wees om weer te vertrou. Die enigste manier om met iemand te konnekteer is om daardie persoon regtig toe te laat om jou ten volle te ken – jou bekommernisse, dit waarmee jy sukkel, jou gebrek aan selfvertroue, jou hoop en drome.
Dit is normaal, veral wanneer jy seer of verwerping ervaar het, om jouself en jou hart van meer pyn te probeer beskerm. Om dit te doen maak sin in ander dele van jou lewe, maar om in jou huwelik jou siel teenoor jou eggenoot af te sluit, sal definitief net verdere pyn veroorsaak.
Soos eiendom se waarde met tyd verhoog, bou jou huwelik oor die jare kapitaal op. Julle gedeelde ervarings, soos die dag wat julle kind universiteit toe gaan, die maatskappy wat julle saam begin het, die afsterwe van jou ouer na ‘n uitgerekte stryd met kanker, die geboorte van julle kinders, of ‘n weeklange vakansie om ‘n verjaarsdag te vier – alles daarvan tel. Hierdie ervarings kom as ‘n pragtige skilderdoek van intimiteit wat julle lewe saam uitbeeld, bymekaar. Dit bring ook God se seën mee. ‘Iemand wat ‘n goeie vrou [of man] kry, het geluk gevind. Hy [of sy] geniet die goedheid van die Here.’
Sielskos: Eks 7-9; Joh 1:14-28; Ps 92; Spr 26:1-3