Voorbereiding vir ouerskap
2024-10-03Spreuke 17:6 DB
Baie van die toestelle in jou huis kom met ‘n handleiding. As jy die tyd neem om dit te lees en te verstaan, kan dit jou allerhande probleme spaar. God het vir ons die primêre handleiding gegee om kinders groot te maak – die Bybel. Dit sê: ‘…Kinders wat trots is op hulle ouers, staan sterk.’ Daar is geen hoër roeping as die van ‘n ouer nie. Dit is die betekenisvolste en lewensveranderendste besluit wat jy ooit sal neem. Dus moet jy hierdie besluit met ernstige oorweging, gebed en ‘n sin vir humor maak, en dit kan die grootste vreugde van jou lewe word.
Jou kinders het nodig dat jy grense vir hulle stel om hulle veilig te hou. Jy moet as hulle geestelike en morele kompas optree. Kinders van vandag word met televisieprogramme, advertensies, musiek, videospeletjies, die internet en tydskrifte vol beelde van materialisme, wreedheid, seks en dwelm- en alkoholmisbruik, oorval. Baie van die negatiewe wat hulle sien, word bewonder en gevier. Soveel so dat selfs wanneer hulle ‘n sterk morele kern besit, hulle kan begin voel dat iets met hulle fout is as hulle nie die skare volg nie.
As ouer is jou werk om jou beginsels oor en oor te versterk, terwyl jy jou kinders met die gereedskap toerus om die druk van die lewe te weerstaan. Dis ‘n lewenslange taak. Jy sal in ‘n sin elke dag, die hele dag, vir die res van jou lewe, op roep wees. Aangesien God ‘ons Vader’ genoem word, verstaan Hy waarvoor jy te staan kom en sal Hy jou help wanneer jy na Hom in gebed draai.
Sielskos: Num 29:1-6; Matt 24; Op 11:15-19; 1 Kor 15:50-58