Hou aan bid daaroor

2024-10-02
Jakobus 4:2 NLV

Baie van ons mislukkings vind plaas omdat ons nie daaroor bid nie. Soos ons ons foute ondersoek, ontdek ons ‘n verlate altaar van gebed en ‘n onoopgemaakte Bybel. Jakobus som dit as volg op: ‘En eintlik is die rede hoekom julle nie het wat julle wil hê nie, die feit dat julle God nie daarvoor vra nie.’ Een Christelike leier skryf: ‘As ‘n uitgebrande, gefrustreerde jong Christen, het ek een dag besef dat om in my eie krag te probeer leef, nutteloos was. Ek moes my probleme na God toe neem. Met ander woorde, ek moes meer bid!’ Jesus sê vir ons: ‘Hou aan met vra, en God sal vir julle gee. Hou aan met soek en julle sal kry. Hou aan klop en God sal die deur vir julle oopmaak’ (Matteus 7:7 NLV).

Soms is dit eers wanneer jy nie meer jou weg oopsien nie, wanneer jy na God in gebed draai. Selfs dan, wanneer ons gebede nie onmiddellik beantwoord word nie, gee ons op. Oor en oor word daar in die Skrif vir ons gesê om op God te wag. Hoekom? Omdat God werk terwyl ons wag. Soms werk Hy aan die dinge waarvoor ons Hom gevra het; ander kere werk Hy aan ons. In sulke tye mag Hy dalk besig wees om ons houding of begeertes te korrigeer of om ons na sy wil toe te lei.

Moenie net bid nie, bid aanhoudend. Gee dit alles aan God oor wanneer jy bid. Onthou, Hy het beloof dat wanneer jy Hom met jou hele hart soek, sal jy Hom vind (sien Jeremia 29:13). Sit dus jou hele hart in jou gebed, wag stil in God se teenwoordigheid en laat Hom toe om met jou te praat. Jy sal heerlik verras wees oor hoe Hy jou gebede beantwoord.

Sielskos: 1 Kor 15-16; Luk 24:36-44; Ps 60; Spr 25:21-22