Doen dit in Christus se krag, nie jou eie nie

2024-09-09
Filippense 4:13 NLV

Een van die vinnigste maniere om moedeloos te word, is om die Christelike lewe uit jou eie krag te probeer leef. Dit kan nie gedoen word nie. God het dit inderdaad so ontwerp. Jesus het gesê: ‘As julle My liefhet, sal julle my opdragte gehoorsaam. En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Raadgewer stuur om vir altyd by julle te wees; dit is die Gees van die waarheid. Die wêreld is net nie in staat om Hom te ontvang nie omdat hy Hom nie sien of ken nie. Julle ken Hom egter omdat Hy by julle gaan bly en in julle sal woon’ (Johannes 14:15-17 NLV).

God se gebooie is nooit te moeilik vir ons om te volg nie – mits ons dit deur Christus se inwonende krag doen. Jy moet leer om daagliks daardie krag te gebruik. Hy is te alle tye in jou en met jou, om jou in staat te stel om dit te doen wat jy nie kan doen nie en om dit wat jy sonder Hom moeilik sou vind om te doen, maklik te kan doen.

Paulus het van die konstante stryd tussen sy gees en sy vlees gepraat. Met tye het dit hom tot wanhoop gedryf. Hy gee egter dan vir ons die sleutel tot ‘n Christelike lewe in oorwinning: ‘Vir alles in die lewe, die goeie of die slegte, sien ek kans omdat Jesus my bron van krag is’ (Filippense 4:13 DB). Leer by die gloeilamp; hy kan homself nie verlig nie. Wanneer hy egter aan ‘n elektriese kragbron geskakel word, hoef jy net die skakelaar te druk. Doen dit dus in Christus se krag en nie jou eie nie.

Sielskos: Jos 19:24-21:45; Luk 20:20-26; Ps 112; Spr 23:13-15