Waarheen gaan jou gebede?

2024-08-14
Handelinge 10:4 AFR53

Het jy al ooit gewonder waarheen jou gebede gaan? Die antwoord is ‘voor God in gedagtenis.’ Let op dat hulle ‘voor’ Hom is. Hulle is in sy hande en in sy gedagtes. Toe Kornelius gebid het, het God nie net sy omstandighede verander nie, Hy het die geskiedenis verander; vir die eerste keer kon nie-Jode die evangelie hoor en deel van God se koninkryk word. Hoe lank het Kornelius gebid? Ons weet nie, maar die Bybel sê: ‘Hy het toegewy aan die God van Israel geleef en het ontsag vir Hom gehad… Hy het baie bydraes vir die armes… gegee en hy het deurentyd tot God gebid’ (Handelinge 10:2 NLV).

Gebed was nie ‘n noodlyn wat Kornelius gebruik het wanneer hy in die moeilikheid beland het of ‘n probleem gehad het wat hy nie kon oplos nie. Nee, ‘hy het deurentyd tot God gebid.’ Hy het ‘n leefstyl van gebed gehad. Die woord ‘gedagtenis’ beteken dat God onthou waaroor jy bid. Gebed is soos om geld in jou bankrekening te deponeer. Jy mag dit dalk nie vandag of môre onttrek nie, maar dit sal daar wees wanneer jy dit nodig het.

Moenie in godsdienstige rituele vasgevang word nie. Jy kan enige plek, enige tyd, oor enigiets bid en God sal jou antwoord. ‘Saans, soggens en smiddae pleit ek en kla ek, en Hy hoor my stem’ (Psalm 55:18 NLV). Wanneer jy op die snelweg uit petrol raak, kan jy nie die kar blameer nie. Jy het met ander dinge besig geraak en dit wat belangrik is, afgeskeep. Gebed maak jou van God bewus, dit hou jou aan God geskakel en posisioneer jou om dit wat jy nodig het van Hom te ontvang. Hou dus aan bid, want jou gebede kom voor God ‘in gedagtenis’ op.

Sielskos: 1 Kro 16-18; Luk 12:49-59; Ps 119:41-48; Spr 21:1-3