Wanneer jy onvoldoende voel (2)
2024-07-142 Korintiërs 12:9 NLV
Eerstens, erken aan God dat jy onvoldoende is. Joni Eareckson Tada sê: ‘As jy jou swakheid ontken, sal jy nooit God se krag binne-in jou besef nie.’ God het vir Paulus gesê: ‘…My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking.’ Enigiets wat jou op God laat leun is ‘n plus, nie ‘n minus nie.
Tweedens, hou op om jouself af te kraak. Jy sê: ‘Maar ek het nie die kwalifikasies om die werk te doen nie.’ God roep nie die gekwalifiseerdes nie, Hy kwalifiseer die geroepenes. Hoe? Deur hulle met sy Gees te vul. ‘…Ek [sal] my Gees op alle mense uitstort. Julle seuns en dogters sal profeteer. Julle oumense sal drome droom. Jongmense sal visioene kry. In dié tyd sal Ek my Gees selfs op slawe en slavinne uitstort’ (Joël 2:28-29 NLV). God word nie deur ouderdom, geslag, ras of akademiese status beperk nie. Die enigste ding wat Hom beperk, is die beperking wat jy op jouself plaas of wat jy toelaat dat ander mense op jou plaas.
Derdens, moenie dit glo nie. Adverteerders spandeer biljoene rande om jou te oortuig dat jy sonder hulle produk onvoldoende of onvolledig is. Moenie hulle glo nie! Begin om te sê: ‘Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het…’ (Psalm 139:14 NLV).
Vierdens, sien die uitstekende en beter optrede van iemand anders as ‘n bron van inspirasie, eerder as van intimidasie. Moet intussen nie jou unieke talente uit die oog verloor nie. ‘Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. Ons moet hierdie vermoëns reg gebruik…’ (Romeine 12:6 NLV). Jou gawe mag dalk onontdek, onontwikkel of ongebruik wees, maar dit woon in jou. Ontsluit dit vandag en begin dit gebruik.
Sielskos: Matt 5:8; Ps 24:3-6; 2 Pet 3:3-14; 1 Joh 3:1-3