Hardloop om te wen

2024-07-10
Matteus 5:30 NLV

Desperate situasies verg soms desperate maatreëls. Jesus stel dit so: ‘En as jou regteroog jou laat struikel, pluk dit liewer uit en gooi dit weg van jou af. Dit is vir jou beter dat een van jou liggaamsdele tot niet gaan as dat jou hele liggaam in die hel eindig. Net so, as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af. Dit is vir jou beter om net een van jou liggaamsdele te verloor as dat jou hele liggaam in die hel eindig’ (verse 29-30 NLV). Jesus bepleit morele en geestelike chirurgie. Daar is geen manier om met sonde te redeneer of te onderhandel nie. Wat ook al jou persoonlike stryd is – dobbel, alkohol, dwelms, verkeerde verhoudings of internetpornografie – die doel daarvan is om jou te vernietig en dit moet uitgeroei word.

Die apostel Paulus was bekend met die Ou Testamentiese Skrif. Hy het geweet dat Simson geval en Josef sterk gestaan het toe hulle voor soortgelyke versoeking te staan gekom het. Daarom het hy aan sy geestelike seun, Timoteus, geskryf en hom gewaarsku oor die sonde wat hom kan diskwalifiseer en hom daarvan kan weerhou om die wedloop te wen: ‘Vlug vir enigiets wat jeugdige drange aanwakker…’ (2 Timoteus 2:22 NLV).

Daar is in vandag se lewe orals verleiding, wat beteken dat ons nie altyd die bron daarvan kan uitskakel nie. Dus sê Paulus vir Timoteus: wanneer jy nie die invloed kan verwyder nie, verwyder jouself! Hardloop, moenie loop nie. Jy mag dalk vry wees, maar jou vlees sal jou net ‘n paar sekondes gee voordat dit namens jou besluit of jy gaan toegee aan die sonde. Moet dus nie huiwer nie, moenie afwyk nie en moenie uitstel nie. Doen wat gedoen moet word – en doen dit vinnig.

Sielskos: 1 Sam 27-31; Luk 6:1-16; Ps 122; Spr 17:18-21