Hoe om vrede te hê (1)

2024-07-05
Romeine 5:1 NLV

God sal vir jou drie soorte vrede gee.

1) Geestelike vrede. ‘As mense wat deur God vrygespreek is omdat ons glo, is daar nou vrede tussen God en ons op grond van wat Jesus Christus ons Here gedoen het.’ Jy moet vrede met God hê voor jy enige ander soort vrede kan hê. Jesus het gesê: ‘Ek laat vir julle vrede na: my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie…’ (Johannes 14:27 NLV). Hoekom nie? Omdat sy vrede deur die hemel gekenmerk word.

2) Vrede in verhoudings. Paulus skryf: ‘Sover dit vir julle moontlik is, moet julle goeie verhoudings handhaaf met alle mense’ (Romeine 12:18 NLV). Vrede in verhoudings verminder konflik. Jy weet uit ervaring dat verhoudings die bron van spanning kan wees. Vir die meerderheid van ons, is ons grootste probleem met mense: om goeie interaksies met ons baas, gesin of familie te hê. Ons moet aanhoudend kompetisie, konflik en kritiek hanteer. Hierdie dinge kan ons vrede steel.

3) Emosionele vrede. ‘Verder, laat die vrede wat Christus bewerk het, in julle lewe skeidsregter wees. As lede van een liggaam is julle tot vrede geroep…’ (Kolossense 3:15 NLV). Wat is ‘n skeidsregter se rol? Hy behou vrede. Hy verseker dat die spel op ‘n gladde en gedissiplineerde manier gespeel word. God sal jou van ‘n interne skeidsregter voorsien wat jou vrede sal gee terwyl alles rondom jou chaoties lyk. Hier is ‘n wonderlike Bybelse belofte: ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is’ (Jesaja 26:3 NLV).

Het jy vandag vrede nodig? Draai na God; jy sal nie teleurgestel word nie.

Sielskos: 1 Sam 16-17; Luk 4:31-44; Ps 102:1-11; Spr 17:4-6