Lewenslank stormbestand
2024-06-04Lukas 6:46 NLV
Onthou jy die woorde van die ou Sondagskoolliedjie: ‘Die wyse man bou sy huis op die rots… Die dwase man bou sy huis op die sand’? Die storm het beide huise getref, maar slegs die wyse man se huis het staande gebly. Jesus het nie bloot die deugde van wysheid bo dwaasheid aanbeveel nie. Die waarheid is dat ons almal soms wys en ander kere dwaas is. Hy het ook nie gesê dat die huis wat vasgestaan het ‘n gelowige se huis was, terwyl die huis wat platgevee was ‘n ongelowige se huis was nie. Hy het ook nie probeer impliseer dat die huis op die rots ‘n kerkganger s’n was, terwyl die huis op die sand iemand wat nie kerk bywoon nie, s’n was. Sy punt was eenvoudiger.
Wanneer dinge op hulle ergste is en ons in die hoek vasgedruk is, wanneer ons aan ons kans op oorlewing twyfel, wanneer ons ons laaste greintjie weerstand opgebruik het, is dit nie ons wysheid, redding of kerkbywoning wat ons deur die storm kry nie. Baie wyse, getroue gelowiges gaan in die lewe se storms onder: ‘n verhouding waarin mishandeling plaasvind, ‘n finansiële ineenstorting, ‘n ontroue eggenoot, die verlies of siekte van ‘n kind, ‘n geestelike of fisiese gestremdheid.
Albei huiseienaars het sy Woord verstaan, maar om eenvoudig te sê: ‘Here, ek stem met U saam,’ is nie genoeg om jou deur die storm te bring nie. Die punt wat Jesus hier probeer maak het is dat jy deur die storm sal kom wanneer jy doen wat jy Hom hoor sê! God het Homself daaraan verbind om sy Woord te eer en jou gehoorsaamheid bring jou in lyn daarmee en aktiveer sy krag namens jou.
Sielskos: Amos 5:18-9:15; Mark 13:24-37; Ps 117; Spr 14:9-12