Maak oulike kinders in ‘n moeilike wêreld groot (3)

2024-05-13
Spreuke 23:13 NLV

Hier is nog ‘n paar areas waar ouers dikwels verward is. 2) Dissipline teenoor straf. ‘Tug is nodig! As ‘n kind toegelaat word om te doen net wat hy wil, loop dinge verkeerd. Dissipline verdryf stoutighede’ (Spreuke 22:15 DB). Dissipline en korreksie gaan oor onderrig en leer; straf gaan daaroor om ‘n kind vir sy gedrag te laat ly. Kinders het dissipline nodig – nie straf, wat dikwels deur ‘n gefrustreerde en woedende ouer toegedien word – nie. Wanneer jy dissipline weerhou, berei jy hulle vir ‘n leeftyd van mislukking en lyding voor. Dissipline fokus daarop om hulle gedrag te verbeter. Dit leer hulle reg en verkeerd deur gevolge wat direk aan die kind se keuses gekoppel is, te gee. Dit mag dalk wees om hulle te hok of hulle van sekere voorregte te ontneem, maar dit moet altyd tot die kind se voordeel wees en nie om pyn toe te dien nie.

3) Liefde teenoor toegeeflikheid. Ons materialistiese wêreld verwar liefde met toegeeflikheid. Liefdevolle ouers gee sonder om te bederf, weerhou vir die kind se beswil en motiveer hulle deur goeie gedrag te beloon. Toegeeflike ouers gee kinders wat hulle ook al wil hê, ongeag hul gedrag, gevolglik leer hulle nie verantwoordelikheid nie. Bedorwe kinders ontwikkel ‘n gevoel van geregtigheid en ‘n verwagting dat ander bestaan om aan hulle eise te voldoen. Toegeeflike ouers is dikwels skuldgedrewe en bang hul kinders hou nie van hulle of is nie lief vir hulle nie. Hulle verwar toegeeflikheid met liefde en kweek kinders wat eis, manipuleer en nooit tevrede is nie. Liefde vereis dat jy praat, luister, verstaan, lag, moeilike tye deel, mekaar respekteer en jou kinders met onvoorwaardelike aanvaarding bemoedig. Sulke liefde kos niks, maar is van onskatbare waarde.

Sielskos: Deut 25-27; Mark 8:1-13; Ps 44:9-16; Spr 12:10-11