Die regte houding (2)

2024-05-09
Markus 9:23 NLV

Demosthenes, wat as die beste redenaar in antieke Griekeland bekend was, het ‘n ernstige spraakgebrek gehad. Volgens legende het hy dit oorkom deur verse met klippies in sy mond op te sê en bo die gedreun van die branders by die see te praat. Tydens sy gevangenskap in die Wartburg kasteel, het Martin Luther sy tyd gebruik om die Nuwe Testament in Duits te vertaal. Beethoven het sy grootste simfoniese meesterstukke geskryf nadat hy sy gehoor verloor het. John Bunyan het The Pilgrim’s Progress geskryf toe hy in die tronk was, so ook het Daniel Defoe Robinson Crusoe in die tronk geskryf. Abraham Lincoln word deur baie as die beste Amerikaanse president geag, maar hy sou waarskynlik nie as ‘n groot leier bekend geword het as hy nie die land deur die Amerikaanse burgeroorlog gelei het nie.

Dikwels produseer moeilike situasies groot leiers en denkers. Dit is egter net die geval wanneer hulle houding reg is. Wanneer ‘n probleem in kontak met iemand wat die regte houding het kom, is die resultaat dikwels wonderlik. Uit groot onrus kom groot staatsmanne, sakemanne, wetenskaplikes, opvoeders, pastore en ander na vore. Elke uitdaging is ‘n geleentheid en elke geleentheid het ‘n uitdaging. Dis egter die houding waarmee jy jou probleem benader wat hoofsaaklik die uitkoms bepaal.

Toe ‘n man wie se seun nie kon hoor of praat nie vir Jesus gevra het om hom gesond te maak, het Jesus gesê: ‘…As ‘n mens glo, is álles moontlik!’ (vers 23 NLV). Die man het geantwoord: ‘Ek glo!.. Help my tog om nie meer te twyfel nie!’ (vers 24 NLV). Jesus het hom gehelp en ook sy seun genees. As jy hulp met jou houding nodig het, praat vandag met die Here.

Sielskos: Luk 24:50-53; Hand 1:1-11; Ef 4:7-10