God se krag bewerk groot dinge

2024-05-04
Filippense 1:6 NLV

Baie van ons het ‘n God-grootte droom binne-in ons, maar ons is so bang vir mislukking dat ons nie eers probeer nie. Ons kan ons nie indink hoe dit moontlik die realiteit kan word nie. Dus doen ons niks daaraan nie. Hier is ‘n uitdaging: Moenie jouself oor die resultate bekommer nie. Dis nie jou verantwoordelikheid nie. ‘Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi…’ Jy moet eenvoudig daarop reageer.

Dit hoef nie iets groots te wees nie; dit sal heel waarskynlik iets kleins wees. Alles wat groot is begin klein. As jy egter die klein dinge doen asof hulle groot dinge is, sal God hulle seën en hulle gebruik. A.W. Tozer het gesê: “‘n Lae dunk van God is die oorsaak van ‘n honderd klein euwels. ‘n Hoë dunk van God is die oplossing vir tienduisend tydelike probleme.”

Let op hoe Paulus vir die gelowiges in Efese gebid het: ‘Mag God julle harte so verlig dat julle sal insien watter wonderlike vooruitsig sy roeping inhou. Mag julle insien hoe ‘n ryk heerlikheid dit is dat God sy eie mense vir Hom as ‘n volk verkry het. Mag julle insien hoe enorm groot die krag is wat God gebruik in ons wat glo…’ (Efesiërs 1:18-19 NLV).

Ons kan ons nie indink waartoe God in staat is nie. Dit beteken dat ons ons nie kan indink waartoe ons in staat is wanneer ons God beheer van ons lewens gee nie. Sy krag veroorsaak ‘n kettingreaksie. Met sy energie wat in ons werk, kan ons alles waarvoor Hy ons geroep het, verwesenlik.

Sielskos: Deut 5-7; Mark 6:14-29; Ps 37:1-7; Spr 11:24-26