Vernietig daardie skanse!
2024-04-172 Korintiërs 10:4-5 NLV
Wanneer die Bybel van ‘n skans of vesting praat, verwys dit na ‘n area van jou lewe wat deur verkeerde denkwyses beheer word. Hierdie skanse sal mense wat dieselfde dink, na jou toe aantrek. Daar is egter goeie nuus. Nie net sal God die skanse in jou lewe aan jou openbaar nie, Hy sal vir jou die gevolge wat hulle veroorsaak het, wys.
Sommige van ons bekommer ons obsessief oor geld, omdat ons moeilike kinderjare gehad het. Gevolglik is ons geneig om meer op onsself as op God staat te maak. Wanneer dit by geld kom, steek ons dit weg, hoop dit op of weerhou dit. Omdat ons bang is om te saai, loop ons die presiese oes wat ons probleem sou oplos, mis.
‘Hoe kan ek dus my skans of vesting hanteer?’ vra jy. Val dit met die Woord van God aan. Jy hoef nie alles wat in jou gedagtes opkom te aanvaar nie; jy het ‘n keuse! As jou gedagtes in lyn met die Woord van God is, aanvaar dit – as dit nie is nie, verwerp dit. Wanneer Satan jou aanval, moenie net daar sit en sê: ‘Ek wens hy wil my uitlos. Ek is nie lus om vandag te baklei nie,’ nie. As jy dit doen, sal hy jou ‘verslind’ (sien 1 Petrus 5:8).
Paulus beskryf jou Bybel as volg: ‘…as swaard, die Gees, dit is God se woord’ (Efesiërs 6:17 NLV). Die Heilige Gees binne-in jou sal die swaard van die Skrif namens jou opneem – mits jy jou werk gedoen het, om die Woord van God in te neem. Wil jy die skanse in jou lewe vernietig? Herprogrammeer dan jou gedagtes met die waarhede van God se Woord.
Sielskos: Hand 1:1-3:10; Mark 3:7-12; Ps 43; Spr 10:17-18