Om werksekerheid te hê (4)

2024-04-10
Filippense 4:13 NLV

Dit kan verwoestend wees om jou werk te verloor. Dis hoekom jy die regte perspektief moet behou. Om minder te hê maak nie van jou ‘n minderwaardige persoon nie. Die Christelike lewe is een van toetse en oorwinnings. Paulus skryf: ‘Ek weet wat dit is om boomskraap te lewe, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê. Ek het lewenservaring opgedoen vir alle omstandighede, vir wanneer ek genoeg het om te eet én wanneer ek honger is, vir oorvloed én tekort. Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (verse 12-13 NLV). Wat moet jy doen wanneer jy werkloos is?

1) Jou uitgawes tot die minimum verminder. Dit beteken dat jy dalk die bus of trein moet neem, jou eie middagete moet maak en ander kostebesparende maatreëls moet gebruik.

2) Die stigma uit werkloosheid neem. Moenie aanneem dat mense minder van jou gaan dink omdat jy jou werk verloor het nie. Mense reageer oor die algemeen op dieselfde manier as jy oor jou situasie. Hulle sal jou entoesiasme oor jou volgende skuif inspirerend vind – selfs al weet jy dalk nog nie wat dit gaan wees nie. ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe’ (Romeine 8:28 NLV).

Deur in die tronk gegooi te word, het Josef Egipte se eerste minister geword. ‘Die Here jou God… het die vloek in ‘n seën verander omdat die Here jou God jou liefhet’ (Deuteronomium 23:5 NLV). God kan talente binne-in jou en konneksies rondom jou openbaar en die deur na ‘n vlak van seën en sukses wat jy nooit gedroom moontlik is nie, oopmaak. Vertrou Hom dus en hou aan glo dat jou beste dae nog voor jou lê.

Sielskos: Jer 36:27-40:16; Mark 1:40-45; Ps 25:1-7; Spr 9:17-18