Wees geïnteresseerd in alles wat God doen

2024-04-01
Spreuke 25:2 NLV

Enigiets wat iets van ons Skepper openbaar, is iets waarin ons geïnteresseerd behoort te wees. Die Skrif, as die geskrewe openbaring van God, is in ‘n klas van sy eie. Wiskunde, kuns en wetenskap openbaar egter ook ‘n kenmerkende dimensie van God se persoonlikheid.

Die Bybel sê: ‘God het vir Salomo baie wysheid en onderskeiding gegee… Hy het 3,000 spreuke geskryf en 1,005 liedere gedig. Hy kon met gesag praat oor bome en plante, van die grootste seders van die Libanon tot die kleinste hisop wat uit die mure groei. Hy kon ook praat oor diere, voëls, reptiele en visse. Mense het van oral af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. Al die konings van die wêreld wat van sy wysheid gehoor het, het gesante gestuur’ (1 Konings 4:29, 32-34 NLV). Salomo was in alles geïnteresseerd. Die breedte van sy kennis het hom so ‘n diepte van wysheid gegee dat: ‘…Al die konings van die wêreld wat van sy wysheid gehoor het… gesante gestuur [het].’

As Geesvervulde inwoners van God se koninkryk is ons nie geroep om die samelewing te vermy nie, maar om dit in te lig, te onderrig en dit te verlig. ‘Dit is God se reg om iets geheim te hou. Dit is konings se voorreg om uit te vind wat iets beteken.’ God hou daarvan as ons iets besef of iets nuuts teëkom, selfs al is ons ontdekkings algemene kennis. Is dit nie die normale reaksie van ‘n ouer wanneer hulle kind nuwe dinge ontdek nie? Wanneer jy aanhou om die regte vrae te vra, sal God aanhou om vir jou die regte antwoorde te gee.

Sielskos: Jer 10-13; Matt 28:9-10; Ps 38:13-22; Spr 8:24-26