Kom uit die skuld en bly daaruit!

2024-03-07
Spreuke 22:7 NLV

Dis nie toevallig dat hierdie twee Skrifgedeeltes op mekaar volg nie: ‘Leer ‘n jongmens om die regte pad te kies, en wanneer hy eendag oud is, sal hy nie daarvan afwyk nie. Soos rykes oor armes heers, so is die man wat geld leen; Hy is die slaaf van die man by wie hy leen’ (verse 6-7 NLV). Dis in die haak om geld vir jou kind se studies, ‘n bekostigbare huis en ‘n betroubare kar te leen. Andersins, tensy jy vir iets kan betaal – leer om te wag!

Jesus het gesê: ‘…As enigeen van julle my dissipel wil word, moet jy jou selfsugtige ambisie aflê, elke dag jou kruis opneem en My volg’ (Lukas 9:23 NLV). Ons is nie baie goed daarmee om onsself die dinge wat ons wil hê, te ontsê nie. Tensy jy egter wil hê dat jou kinders jou skuld moet erf, self met skuld moet opeindig en die beginsel van onmiddellike bevrediging aan hulle kinders moet oordra, moet jy nou die siklus breek.

Kom uit die skuld en bly daaruit! Sê: ‘Here, ek gaan nie meer verskonings maak nie. Ek neem verantwoordelikheid vir die gemors waarin ek myself bevind. Ek het te veel spandeer, u beginsels van goeie rentmeesterskap geïgnoreer en ek het berou. Gee my die moed om my skuld in die gesig te staar en ‘n eerlike opname te maak van waar ek staan. Moet my nie toelaat om in ontkenning te leef nie. U het ons gewaarsku om nie onkundig oor Satan se taktieke te wees nie (sien 2 Korintiërs 2:11 NLV). Hy probeer my in finansiële slawerny hou. Help my om op te hou om bykomende skuld te maak. Verlos my van emosionele besteding. Asseblief, help my om uit die skuld te kom. In Jesus se Naam bid ek dit. Amen.’

Sielskos: Op 10-14; Matt 21:18-32; Ps 136:1-12; Spr 6:30-31