Jy het God se hulp nodig
2024-03-06Johannes 15:5 NLV
Selfhelp boeke en motiveringsprekers is soos rasieleiers wat op die kantlyn staan en skree: ‘Jy kan dit doen!’ Hulle kan behulpsaam wees, maar as die ‘jy kan dit doen’ filosofie altyd waar was, sou ons nie vir God nodig gehad het nie. Paulus het dit verstaan. Dis hoekom hy geskryf het: ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (Filippense 4:13 NLV).
Om die wil van God te ontdek, verg geloof in die onmoontlike en ‘n kinderlike afhanklikheid van Hom. Die Bybel is vol mans en vrouens wat hul roeping in die perfekte wil van God ontdek het, deur dinge te doen wat gewoonlik onmoontlik op hul eie sou wees. Byvoorbeeld:
1) Noag en sy onmoontlike projek. Noag is opdrag gegee om ‘n skip die grootte van ‘n vliegdekskip – met die hand en op land – te bou!
2) Abraham en sy onmoontlike belofte. God het vir hom toe hy negentig jaar oud was gesê dat sy kinders so baie soos die sterre aan die hemelruim en die sand van die see sou wees.
3) Maria en haar onmoontlike swangerskap. Verbeel jouself jy moet vir jou verloofde sê: ‘Ek is swanger en die baba se vader is die Heilige Gees.’
God het nog altyd gewone mense gekies om ongewone dinge te doen. Elkeen van hulle was geroepe om deel van iets groters as sy- of haarself te wees. As gevolg van hulle gewilligheid om aan God oor te gee en toe te laat dat sy doelwitte in hulle geopenbaar en deur hulle vervul word, het Hy hulle op wonderbaarlike wyses gebruik. God vind behae daarin om dinge deur ons te doen wat slegs Hy kan doen, sodat Hy op die ou einde al die glorie, eer en lofprysing ontvang.
Sielskos: Op 5-9; Matt 21:1-17; Ps 77; Spr 6:29