Sukkel jou besigheid?

2024-03-02
Psalm 46:2 NLV

Wanneer jou besigheid besig is om te misluk, kan jy jou gevoel van sekuriteit, jou gemoedsrus en jou vermoë om te slaap, verloor. Dit kan selfs jou familie affekteer. As dit is waar jy vandag is, lees die volgende woorde: ‘God is ons toevlug en ons krag; in nood is Hy gereed om te help.’

Laat jou gedagtes vir ‘n oomblik gaan en dink aan die volgende: Alles wat jy het, insluitend jou besigheid, behoort aan God, nie waar nie? Hy is die eienaar, jy is die bestuurder. Wanneer moeilikheid dus opdaag, het jy die reg (en die verantwoordelikheid) om na Hom te gaan vir hulp en te verwag dat Hy dinge vir jou sal omdraai. Toe niemand vis gevang kon kry nie, het Jesus vir hulle gesê waar om hulle nette uit te gooi.

Die Bybel sê dat niks te moeilik vir God is nie (sien Jeremia 32:27), en dit sluit jou probleem en die situasie waarin jy jou tans bevind, in. Die skrywer van Spreuke sê: ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys’ (Spreuke 3:5-6 NLV). Hy kan jou lei deur die raad van ‘n vriend wat sukses behaal waar jy misluk: ‘Sonder beraadslaging loop planne skeef. Sukses is afhanklik van baie raadgewers’ (Spreuke 15:22 NLV).

Soms verg dit dat jy jou beleide, produkte of personeel moet verander – en dit verg moed en toewyding. As jy egter jou besigheid op ‘n fondament van integriteit, regverdigheid, kwaliteitprodukte en goeie diens gebou het, het jy die reg om na God in moeilike tye te gaan, vir sy hulp te vra en te verwag dat jy dit sal ontvang.

Sielskos: 1 Kon 18:16-20:43; Matt 19:15-30; Ps 66:1-12; Spr 6:20-22