Probeer gemeenskaplike grond vind (1)

2023-12-02
1 Korintiërs 9:22 NLV

Om iemand te beïnvloed, moet jy eers ‘n konneksie met hulle maak. Om dit te kan doen, moet jy gemeenskaplike grond vind.

Paulus skryf: ‘Alhoewel ek dus teenoor niemand ‘n verpligting het nie – omdat hulle my nie vergoed nie – het ek myself aan almal diensbaar gemaak sodat ek soveel mense moontlik vir Christus kan wen. Onder die Jode het ek soos ‘n Jood geword om hulle vir Christus te wen. Alhoewel ek nie meer onder die wet staan nie, het ek vir hulle wat onder die wet staan, geword soos iemand onder die wet om hulle wat nog onder die wet staan, vir Christus te wen. Onder die nie-Jode wat God se wet nie ken nie, het ek geword soos iemand sonder die wet – alhoewel ek in werklikheid nie sonder God se wet is nie… Dit het ek gedoen om die nie-Jode vir Christus te wen. Vir die geringes het ek ‘n geringe geword om hulle vir Christus te wen. Ek het my met almal vereenselwig om sodoende tog sommige tot verlossing te bring. Al hierdie dinge het ek ter wille van die Goeie Nuus gedoen sodat ek ook aandeel aan sy seëninge kan verkry’ (verse 19-23 NLV).

Wanneer Paulus mense vir Christus wou bereik en beïnvloed, het hy probeer om elke blokkade tussen hulle en Christus te verwyder. Jy moet bereid wees om dieselfde te doen. Mense gee nie om hoeveel jy weet, totdat hulle weet hoeveel jy omgee nie. Daarom moet jy hulle hart eerste, nie kop eerste nie, benader. Voordat iemand die waarheid wat jy met hulle moet deel sal ontvang, moet hulle oortuig wees dat jy vir hulle lief is en omgee. Dit beteken dat jy gemeenskaplike grond moet vind.

Sielskos: 2 Kron 35-36; 2 Joh; Joh 13:1-17; Ps 14; Spr 28:13-16