God is in beheer; vertrou HomGod is in beheer; vertrou Hom

2023-09-28
Psalm 39:8 NLV

Die lewe werk selde uit soos ons hoop of dink dit sal. Toe Job alles verloor het, het hy gesê: ‘Ek het nie die krag om aan te gaan nie. Ek het geen doel om na te streef nie… Nee, ek is hulpeloos. Daar is geen kans dat ek kan slaag nie’ (Job 6:11, 13 NLV). Tog het Job op die ou einde twee keer soveel as wat hy verloor het, teruggekry. Die ervarings en teëspoed waardeur hy gegaan het, het egter sy houding teenoor God diep verander: ‘Ek weet nou U kan enigiets doen en niemand kan U keer nie… Tot nou toe het ek net met my ore van U gehoor, maar nou het ek U met my eie oë gesien’ (Job 42:2, 5 NLV). Wat het Job ontdek? Dat God almagtig is! Ons moet sy Woord gehoorsaam om in sy seëninge te kan wandel – maar die finale uitkoms van alle dinge rus in sy hande.

Baie van ons sukkel met beheer. Ons wil nie net ons eie omstandighede nie, maar ook ons doelwitte, planne, verhoudings en alles wat op ons betrekking het, beheer. Sulke vrese is dikwels die teken van ‘n onbewuste begeerte om onafhanklik van God te wees; om die argitek van ons eie lot te wees. Soms is dit omdat jy in ‘n chaotiese omgewing grootgeword het en besluit het om nooit die ervarings van jou vroeë lewe te herhaal nie. Miskien dink jy dat jy as gevolg van jou opleiding, finansies of ander prestasies in beheer van jou lewe is.

Dis nie waar nie. God het jou in staat gestel om alles wat jy al gedoen het, te doen. Paulus skryf: ‘Maar deur God se onverdiende goedheid is ek wat ek vandag is…’ (1 Korintiërs 15:10 NLV). God is vandag in beheer – vertrou Hom!

Sielskos: Hoogl 1-4; Mark 15:12-20; Ps 13; Spr 21:22-27