Verbind jouself tot die verhouding (2)

2023-08-06
Matteus 19:5 NLV

Die woord ‘verbind’ beteken om te bind, te verplig of te beloof. Vir sommige van ons roep dit beelde van diensbaarheid, beperkings en die verlies van ons vryheid op. Met ander woorde, dit maak ons bang. Deesdae, soos vrouens meer ekonomies bemagtig word, mag sommige van hulle onwilliger word om hulself aan ‘n verhouding te verbind waarvan die Bybel sê dat die man geroep is om die leier in die huis te wees (sien Efesiërs 5:22-24). Dit is egter baie keer die man wat die verhouding vloeibaar en buigsaam wil hou sodat hy sy bly-of-gly opsie kan gebruik wanneer hy wil. Die maat wat die verbintenis wil hê, vind so ‘n verhouding frustrerend en onbevredigend. Wat moet jy dus doen as jy huiwerig is om jou tot die verhouding te verbind?

Twee dinge: 1) Wees eerlik met jouself oor jou vrese, gevoelens en beweegredes. Dawid het gesê: ‘Maar U verwag waarheid uit die hart. Diep in my binneste maak U u wysheid bekend’ (Psalm 51:8 NLV). Wysheid kom deur eerlik te wees oor dit wat in jou binneste aan die gang is. Wat is jou herinneringe van jou ouers se huwelik en hoe het dit jou geaffekteer? Het jy soortgelyke gedragspatrone in jouself of jou potensiële maat opgemerk wanneer dit by die hantering van verhoudings kom?

2) Erken die rol wat jy self gespeel het in die beëindiging van ‘n vorige verhouding. Het jy verander? Is jy gewillig om te verander? Indien wel, is hier God se belofte aan jou vir ‘n beter toekoms: ‘Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het. Dis niks in vergelyking met wat Ek nog gaan doen nie. Ek gaan iets nuuts doen…’ (Jesaja 43:18-19 NLV).

Sielskos: 2 Kon 5:1-17; Luk 4:16-30