Verbind jouself tot die verhouding (1)

2023-08-05
Rut 1:16 NLV

Een van die bekendste Skrifgedeeltes oor verbintenis is Rut se woorde aan Naomi: ‘…Moenie my probeer oorreed om van Ma af weg te gaan nie. Waar Ma ook al gaan, sal ek gaan, en waar Ma ook al woon, sal ek woon. Ma se mense sal my mense wees en Ma se God sal my God wees.’ Hoekom is ons bang om onsself aan ‘n verhouding te verbind?

1) Die vrees om beheer te verloor: ‘Hoekom moet ek my onafhanklikheid prysgee?’
2) Die vrees van te min hê: ‘Wat as hy of sy my finansies ruïneer?’
3) Die vrees van ontoereikenheid: ‘Wat as ek nie aan sy of haar verwagtinge voldoen nie?’
4) Die vrees vir eensaamheid. ‘Wat as hy of sy my verlaat?’
5) Die vrees vir pyn. ‘Ek is voorheen seergemaak en ek wil nie weer seerkry nie.’

Wat staan jou dus te doen? Deesdae is die antwoord ‘n ‘proefhuwelik,’ maar dit werk nie. Om voor die huwelik saam te woon is soos om ‘n kamer te huur eerder as om ‘n huis te koop. As dit nodig word om die gehuurde kamer te herstel, is die huurders eerder geneig om die kamer vir ‘n ander een te verruil. As dit egter nodig is om hulle huis reg te maak, verbind die eienaars hulle daartoe om sodoende hulle belegging te beskerm.

Psychology Today het die gevolgtrekkings van Neil Bennett, ‘n sosioloog verbonde aan die Yale-universiteit gepubliseer, dat vroue wat eers saamgebly het voor hulle getrou het, 80 persent meer geneig was om te skei as vroue wat voor die huwelik apart van hul gades gewoon het. Anders as wat jy dalk mag dink, ervaar diegene wat rondspeel en van verhouding tot verhouding beweeg, nie blywende geluk nie. Diegene wat hulself aan God en aan mekaar verbind, ervaar egter ware en blywende geluk.

Sielskos: Deut 11-13; Mark 2:23-3:6; Ps 78:65-72; Spr 17:1-2