Word jy gesif?
2023-08-03Lukas 22:31 NLV
Jesus het geweet dat Petrus Hom sou verloën, tog het Hy hom steeds geroep om sy dissipel te wees en gesê: ‘…die Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges gaan ondersteun’ (verse 31-32 NLV).
Die foute wat jy maak en die gemors waarin jy jou bevind gebeur gewoonlik nie per ongeluk nie, maar deur keuses wat jy maak. Tog plaas dit jou nie buite bereik van God se genade nie. Die geheim tot oorwinning is om God toe te laat om jou foute te gebruik om jou te ontwikkel, eerder as om Satan toe te laat om dit te gebruik om jou te vernietig.
Let op die woorde: ‘…die Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif’. Satan wil dit wat hy verloor het, terughê – vir jou. Wanneer jy twyfel, het hy die mag om jou te laat val; jy stel jouself oop om te misluk. Die vraag is dus: as Petrus, een van Christus se dissipels wat Hy self uitgekies het, kon faal, hoeveel te meer gaan dit waarskynlik met jou gebeur? Wanneer dit gebeur, wat veronderstel jy wil die Here daardeur bereik?
Jou lewe mag dalk vandag ‘n gemors wees, maar as jy na God toe draai, kan Hy iets moois daaruit maak. Jesus het vir Petrus gesê: ‘…Ek het vir jou gebid…’ Jesus bid vandag vir jou. ‘…As iemand egter sonde doen, ons het ‘n Helper by die Vader wat ons saak stel, Jesus Christus, die regverdige’ (1 Johannes 2:1 NLV). As jy dus geval het, sal Jesus jou optel en jou weer herstel.
Sielskos: Deut 5-7; Mark 2:1-12; Ps 78:40-55; Spr 16:32