Word ouer met grasie (1)
2023-08-01Spreuke 10:27 NLV
Maak die idee om ouer te word jou angstig? Indien dit die geval is, is dit tyd om jou waardestelsel te ondersoek. By God is die inhoud belangriker as die pakkie. Om vrede met jou plooie te maak, moet jy in ooreenstemming met Hom kom. Op die ou einde is dit nie die aantal dae in jou lewe wat tel nie, maar die lewenskwaliteit van jou dae.
Jesus se eerste wonderwerk was om water in wyn te verander. Let op wat die seremoniemeester van die huweliksonthaal gesê het: ‘Elke gasheer sit volgens gebruik eers die goeie wyn voor… jy het egter die goeie wyn tot nou toe teruggehou’ (Johannes 2:10 NLV). Dit kan ook jou lewensverhaal wees. Jy hoef nie bang te wees om ouer te word nie. Hou aan veg, hou aan groei, hou aan vorentoe beweeg.
Luister na die woorde van Kaleb: “‘…Ek het volledig by die Here my God gestaan. Moses het vir my daardie dag onder eed belowe: ‘Die land waarna jy gaan kyk het, sal vir altyd aan jou en jou nageslag behoort…’ Die Here het my laat bly lewe soos Hy 45 jaar terug vir Moses beloof het toe ons nog in die woestyn rondgetrek het. Ek is vandag ‘n man van 85. Ek is vandag nog net so sterk soos die dag toe Moses my uitgestuur het. Ek het nog steeds dieselfde krag as destyds. Ek kan nog al die tyd uitgaan om oorlog te maak en veilig terug te kom. Gee vir my asseblief die heuwelgebied waarvan die Here daardie dag gepraat het…’ Josua het hom geseën. Hy het vir Kaleb… Hebron gegee” (Josua 14:8-13 NLV).
Dis wat dit beteken om met grasie ouer te word.
Sielskos: Deut 1-2; Mark 1:21-34; Ps 78:17-31; Spr 16:26-30