Weier om in vrees te leef (4)

2023-05-30
Romeine 8:31 NLV

Om vrees te oorkom, moet jy glo dat God by jou is. Dis die sleutel tot jou vermoë om dit wat Hy vir jou sê om te doen, te gehoorsaam. Soos jy vol vertroue raak dat Hy by jou is, sal jou vrees verminder. Toe Dawid aangebied het om teen Goliat te veg, het koning Saul vir hom gesê: ‘…Jy kan tog nie teen die Filistyn gaan veg nie, want jy is nog maar ‘n seun, terwyl hy van jongs af ‘n vegter is!’ (1 Samuel 17:33 NLV). Dawid het geantwoord: ‘Die Here… sal my ook red van hierdie Filistyn!’ (vers 37 NLV). Jy is nie alleen in hierdie stryd nie; die Here is by jou. Wanneer jy oortuig is daarvan, sal jou vrees afneem.

Jy mag dalk nie altyd weet wat God gaan doen nie, maar jy kan ontspan in die wete dat Hy op die regte tyd sal doen wat nodig is. Wanneer jy aan die toekoms en al die dinge wat onbekend is dink, is dit maklik om bang te voel. Jy kan dit egter op een van twee maniere sien. Jy kan of pessimisties en vol vrees wees, of jy kan vir jouself sê: ‘Die geveg is die Here s’n en Hy het nog nooit ‘n geveg verloor nie!’

Jy mag dalk nie altyd weet wat om in ‘n gespanne situasie te doen nie, maar God weet. Hy weet alles nog voor dit gebeur het en Hy het vooruit beplan om jou daaruit te red. Sit net een voet voor die ander, vol vertroue dat Hy jou lei. Jy hoef nie God te sien of sy teenwoordigheid aan te voel om te glo dat Hy by jou is nie. Geloof is ‘n saak van die hart en nie van die natuurlike sintuie nie. God is by jou! Glo dit en weier om in vrees te leef.

Sielskos: 1 Kon 8-9; Matt 13:24-35; Ps 108; Spr 12:14