Herbou jou huwelik (1)
2023-05-20Matteus 7:27 NLV
Deesdae eindig omtrent 50 persent van alle nuwe huwelike in die skeihof op. Dis ongelukkig waar, of jy ‘n Christen is of nie. Soms is die redes daarvoor omstandighede, soos werkloosheid of om die huis te verloor. Ander kere is dit verhoudingsprobleme, soos vertrouensverraad of ‘n verslawing aan dwelms of alkohol.
As jy daaraan toegewyd is om jou huwelik te herbou, sal julle moet leer hoe om weer by mekaar aanklank te vind en daaraan werk om dit wat julle eens gehad het, te herstel. Om dit te doen, moet julle beide bereid wees om die proses aan die gang te sit en julself op die langtermyn daaraan verbind. Kom ons kyk vir die volgende paar dae na vier sleutelareas.
Eerstens, moet jy die ander persoon ken. Dis ‘n fout om jou eggenoot te probeer uitpluis, hulle in ‘n boks te sit en hulle vir die res van hulle lewens so te etiketteer. Om iemand te ken is ‘n deurlopende kuns, nie ‘n statiese wetenskap met onveranderlike data nie. Jy moet jou maat as ‘n raaisel wat voortdurende ondersoek en lewenslange leer vereis, beskou. Die Bybel sê: ‘…behandel julle vroue [en mans] met respek…’ (1 Petrus 3:7 NLV).
Jy moet met nuwe oë na jou eggenoot kyk om jou huwelik te herbou. Hulle mag dalk nie wees wie jy aangeneem het hulle is nie – maar jy is ook nie. Jy moet dus spasie vir beide van julle toelaat om te ontwikkel. Maak seker om God ook by die proses in te sluit. Jesus het gesê dat ‘n huis wat op die vaste fondament van God se Woord gebou is, sterk in die storm sal staan terwyl ander uitmekaar val (sien Matteus 7:24-27). Begin dus vandag die proses deur jouself – en mekaar – weer aan God toe te wy.
Sielskos: Jona 1-4; Matt 11:1-19; Ps 88:1-9a; Spr 11:24-26