Verander jou denke, verander jou lewe (1)

2023-05-13
Romeine 12:2 NLV

Wanneer jy kreatief dink, dink jy soos God jou Skepper. Nie almal sal egter jou kreatiewe idees verwelkom nie. Jesus is nie gekruisig omdat Hy wonderwerke gedoen het nie; daarvoor was Hy geliefd en is toegejuig. Hy is gekruisig omdat Hy idees gehad het wat die status quo uitgedaag het. God is die gewer van groot konsepte, waarhede en idees. Wanneer Hy dus vir jou een gee, moenie toelaat dat enigiemand jou daaruit praat nie. Moet ook nie dat die vrees vir verwerping of mislukking jou idee doodmaak nie.

Jy kan immers nie iets nuut en opwindend doen as jy in dieselfde ou groef bly nie. Moenie net harder aan dieselfde ou ding werk nie; maak ‘n verandering. Die eerste verandering is hoe jy dink, waarna jy luister en wat jy glo. Kyk na die volgende frases: ‘Ek is nie ‘n kreatiewe persoon nie. Volg die reëls. Moenie vrae vra nie. Moenie anders wees nie. Bly binne die lyne. Daar is net een manier om dit te doen. Moenie dwaas wees nie. Dink aan jou reputasie. Dis nie logies nie. Dis nie prakties nie. Dis nog nooit vantevore gedoen nie. Dit kan nie gedoen word nie. Dit het nie vir hulle gewerk nie. Ons het dit al probeer. Dis te veel werk. Ons kan nie bekostig om ‘n fout te maak nie. Dit sal te moeilik wees om te bestuur. Ons het nie tyd nie. Ons het nie die geld nie. Ja, maar…’

Paulus skryf: ‘…laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is’ (vers 2 NLV). Die woord vir jou vandag is – verander jou denke, verander jou lewe.

Sielskos: Num 25-26; Matt 9:14-26; Ps 57; Spr 11:14