Wanneer God vir jou ‘n engel stuur (4)

2023-05-09
Daniël 6:23 NLV

Hier is nog ‘n paar situasies waar God vir jou ‘n engel kan stuur:

1) Wanneer jy in die moeilikheid kom omdat jy die regte ding doen. Deur God se wil te doen, het Daniël in die leeukuil beland, maar God het hom daaruit gebring. Die koning het verklaar: ‘…dat in al die gebiede van my ryk daar agting en respek moet wees vir die God van Daniël. Hy is die God wat lewe en vir altyd bestaan…’ (Daniël 6:27 NLV).

2) Wanneer jy moeg is om versoeking te weerstaan. Wanneer die drang om ‘n drankie, ‘n dwelm of ‘n sigaret op te tel oorweldigend voel, of jy dink dat die enigste manier uit die situasie is om ‘n leuen te vertel, of eensaamheid jou in die arms van die verkeerde persoon dryf. Nadat Jesus vir veertig dae lank teen versoeking geveg het, sê die Bybel: ‘Daarna het die duiwel die aftog geblaas. En daar het engele na Hom toe gekom en Hom versorg’ (Matteus 4:11 NLV).

3) Wanneer die las wat jy dra te swaar voel. Voor Jesus se kruisiging het Hy die bepalende gebed van sy lewe gebid: “‘Vader, as U wil, neem tog hierdie beker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geld!’ Daar het ‘n engel uit die hemel aan Jesus verskyn en Hom versterk” (Lukas 22:42-43 NLV). God sal jou deur sy Woord en gebed versterk. Soms sal Hy mense wat jy ken stuur om jou te help. Paulus het geskryf: ‘…Op elke moontlike manier is daar druk op ons uitgeoefen… God… het ons ook ondersteun deur die teenwoordigheid van Titus’ (2 Korintiërs 7:5-6 NLV). Ander kere sal Hy ‘n engel stuur.

Die punt bly egter staan: Wanneer jy tot God om hulp roep, kan jy seker wees dat hulp op pad is.

Sielskos: Num 14-15; Matt 7:15-29; Ps 37:32-40; Spr 11:7-8