Geldsake in die huwelik
2023-05-03Spreuke 15:27 NLV
Een van die grootste bronne van konflik in die huwelik, is geld. Dit gebeur omdat die man en vrou dikwels teenoorgestelde idees het oor hoe dit aangewend moet word. Wanneer een eggenoot gewillig is om te wag om iets te koop totdat hulle finansies in orde is, maar die ander een nie, begin die gevegslinies opgetrek word. Nog ‘n meningsverskil wat kan voorkom is om te besluit wanneer, en waarvoor, lenings aangegaan moet word. Dis gevaarlike grond. Niks irriteer ‘n gedissiplineerde, spaarsamige persoon meer as om saam met iemand te woon wat hul inkomste en hul toekomstige verdienste op dinge wat nie werklik nodig is nie, mors.
Nog ‘n potensiële slagveld vir baie van ons in die huwelik is die besluit om wanneer en hoeveel vir ons kinders te gee. Omdat ons so lief vir hulle is, wil ons hê dat hulle lewens makliker en beter as ons s’n moet wees. Dit verg egter ‘n bestendige hand om ‘n vol glas vas te hou. Die Bybel leer ons duidelik die deugde van harde werk, spaarsamig lewe, spaar, bou en werk in die sweet van ons aangesig. As ons kinders nie hierdie deugde op die regte manier leer nie – terwyl hulle onder ons dak is nie – is daar ‘n goeie kans dat hulle dit op die moeilike manier sal leer – terwyl hulle hul eie huis bou.
Hier is dus goeie raad: Vermy skuld sover moontlik en wees baie versigtig met kredietkaarte. Die misbruik daarvan kan jou familie se stabiliteit en toekoms in gedrang bring. Kredietkaarte moet inderwaarheid met die volgende waarskuwing uitgereik word: ‘Gevaar! Hanteer met omsigtigheid!’ Jesus stel dit so: ‘…Pas op! Moenie gierig wees vir wat jy nie het nie. Ware lewe word nie gemeet aan hoeveel ons besit nie’ (Lukas 12:15 NLV).
Sielskos: Num 3:1-4:33; Matt 5:27-37; Ps 2; Spr 10:30-32