Wanneer jou beste nie goed genoeg is nie

2023-03-22
Lukas 5:5 NLV

Jy sê: ‘Wat het geword van die vers in Galasiërs 6 wat belowe wat jy saai, sal jy ook oes? Ek het my beste gedoen. Ek het vertrou, opgeoffer, die regte dinge gedoen, maar niks geoes nie.’ Dit is ontmoedigend en wil jou laat tou opgooi wanneer jy ‘n gebrek in jou finansies, werk, huwelik, kinders of bediening ervaar.

Die dissipels was ervare vissermanne. Hulle het egter heelnag op die see deurgebring en niks gevang nie, dus was hulle moedeloos. Dis toe Jesus opdaag! Toe hulle dink dat daar niks meer is wat hulle kan doen nie, het Hy in hulle boot geklim. Hy werk steeds op hierdie manier.

Jesus weet dat jy self sal aanhou probeer wanneer jy dink dat jy die situasie self kan hanteer. Dus wag Hy tot jou hulpbronne uitgeput is en jy erken dat jy uit opsies uit is en raak dan betrokke. Hy het vir Petrus gesê: ‘… Vaar nou dieper in en gooi jou nette uit, en jy sal baie vis vang’ (Lukas 5:4 NLV). Petrus het geantwoord: ‘…ons het die hele nag hard gewerk en het niks gevang nie…’ (Lukas 5:5 NLV). Miskien het Petrus gedink: ‘Here, U is die prediker, maar ek is ‘n professionele visserman. As daar enigiets in die water was, sou ek dit gevang het!’ Dis toe dat die wonderwerk gebeur. Petrus het Jesus gehoorsaam, ongeag wat hy gevoel of gedink het.

Wanneer jy moedeloos en hulpeloos is, wanneer jy dink daar is nie ‘n weg uit die gemors nie, moet jy stil raak en luister en Jesus sal vir jou sê wat om te doen. Wanneer Hy dit doen, moet jy, selfs al het jy vrae, sê: ‘…Maar as u so sê, sal ons weer probeer.’ Berei jouself dan vir die resultate wat net God kan gee, voor.

Sielskos: Job 15-17; Luk 19:41-20:8; Ps 13; Spr 8:14-16