Reageer op die regte manier

2023-02-14
Romeine 5:3 NLV

Viktor Frankl is tydens die Tweede Wêreldoorlog na ‘n Nazi konsentrasiekamp gestuur. Die wagte daar het hom van alles ontneem. Hulle het sy vrou, sy familie en sy klere weggevat. Hulle het selfs sy trouring gesteel. Hy het egter een ding gehad wat niemand by hom kon wegneem nie. Hy het geskryf: ‘Die laaste van menslike vryhede is die vermoë om ‘n mens se houding in ‘n gegewe stel omstandighede te kies.’ Die wagte kon nie Frankl se vryheid om sy houding te kies van hom wegneem nie.

Ons weet nie wat more, of selfs vandag, gaan gebeur nie. Ons kan nie ons omstandighede beheer nie, maar ons kan ons reaksie daarop beheer. Ons kan beheer of ‘n ervaring ons sterker of swakker gaan maak, ons geloof of ons vrees gaan vermeerder, of dit ons ‘n beter of ‘n bitter persoon gaan maak. Daar is ‘n gesegde wat sê: ‘Dieselfde sonskyn wat die botter laat smelt, verhard die klei.’ God wil hê dat ons moeilikhede ons moet versterk.

Paulus skryf: ‘…ons jubel selfs in ons swaarkry, want ons besef dat die swaarkry ons leer om te volhard. Op sy beurt kweek volharding betroubaarheid van karakter; en betroubaarheid van karakter versterk ons toekomsverwagting. En hierdie toekomsverwagting sal ons nie teleurstel nie, want ons weet hoe lief God ons het. Hy het sy liefde mos in ons harte uitgestort deur sy Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het’ (verse 3-5 NLV).

Hier is nog ‘n belangrike gedagte – die toetse en beproewings waardeur ons in hierdie lewe gaan, is wat ons bekwaam maak om in die volgende lewe saam met Christus te heers en te regeer. Hierdie wete sal jou help om op die regte manier te reageer!

Sielskos: Ef 5:21-33; Hoog 2:1-7; Ps 45; Spr 5:15-19