Jy word gesnoei (1)
2023-02-11Hebreërs 12:10 ABA
Het jy geweet dat sommige tuiniers met hulle plante praat? Hoekom? Omdat dit hulle help groei! Verbeel jouself jy sê: ‘Jy is so ‘n goeie plant. Jy lyk pragtig vandag. Ek is so trots op jou!’ Verbeel jouself nou dat jy met die plant praat terwyl jy hom snoei en sê: ‘Hierdie maak my seerder as wat dit jou maak.’ Snip! ‘Jy sal my na die tyd hiervoor bedank.’ Snip! ‘Dis vir jou eie beswil.’ Snip! Nou dink jou in dat die plant terugpraat: ‘Jy het nie ‘n hart nie. Jy haat my. Ek het lank en hard gewerk om daardie rose te maak wat jy so pas afgesny het.’
Is dit nie ook wat ons vir God sê terwyl Hy ons snoei nie? ‘Is U nie lief vir my nie? Gee U nie vir my om nie? Kan U nie sien wat tans in my lewe aan die gebeur is nie?’ Ons dink dat God vir ons kwaad is. Nee, Hy is nie kwaad nie. Een van die groot foute wat ons maak is om snoei met straf te verwar. Moenie die twee gelykstel nie.
God sien jou as iemand wat meer vrugte kan dra, iemand met die potensiaal om groot dinge te bereik, iemand wat Hy op ‘n betekenisvolle manier kan gebruik. Hy wil hê jy moet soveel vrugte dra as wat jy moontlik kan, dus snoei Hy jou en sny selfs dinge in jou lewe af waarmee Hy jou geseën het.
Het jy ‘n werk waaroor jy mal was verloor? Of ‘n geliefde verhouding? God mag dalk iets beters in gedagte hê. Kan jy Hom vertrou? Glo jy dat Hy in jou lewe aan die werk is? Sy Woord sê: ‘Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi…’ (Filippense 1:6 NLV).
Sielskos: Gen 42-43; Luk 9:28-36; Ps 141; Spr 4:18-19