Betroubaarheid (1)

2023-02-05
Spreuke 20:6 NLV

‘n Nuwe werknemer het een keer vir ‘n kollega gevra: ‘Hoe lank werk jy al vir die maatskappy?’ Hy het geantwoord: ‘Vandat die baas gedreig het om my af te dank!’ Werkgewers sukkel om werkers te kry wat betroubaar is en waarop hulle kan staat maak. Landsburgers smag na politici wat al hul veldtogbeloftes getrou sal uitvoer. Tydens die huwelikseremonie word pasgetroudes gevra om getrou aan die geloftes wat hulle aan mekaar maak, te wees.

Die waarheid is dat sonder betroubaarheid jou invloed beperk sal wees – of selfs uitgewis sal word. Sonder betroubaarheid, word die somtotaal van al jou ander wonderlike talente afgewater. Betroubaarheid verander die alledaagse in die wonderbaarlike en gewone individue in getroue presteerders. Die wyse koning Salomo het die volgende vraag gevra: ‘Baie mense sal voorgee dat hulle lojale vriende is, maar waar is daar iemand wat regtig betroubaar is?’

Daar is meer as 300 geisers in die Yellowstone Nasionale Park (ongeveer die helfte van die wêreld se geisers waarvan ons weet). Een staan egter bo die ander uit. Dis nie die grootste nie en sy waters bereik nie die hoogste hoogtes nie, maar dit is die populêrste een by verre. Sy populariteit is aan een ding alleenlik te wyte – sy betroubaarheid. Mense staan in lang toue in die warm son om dit te sien, want volgens ‘n presiese skedule skiet dit kokende water meer as 120 voet in die lug in. Jy kan amper jou horlosie daarby stel. Dis hoekom hierdie geiser ‘Old Faithful’ genoem word.

Mense word tot ons betroubaarheid aangetrek. God word deur ons betroubaarheid verheerlik. In alles wat jy dus vandag doen, oefen betroubaarheid uit.

Sielskos: Ps 23; Joh 6:1-15