Die seën waarop ons hoop

2023-01-27
Titus 2:13 NLV

Vertroue in Christus se spoedige wederkoms en ons uiteindelike oorwinning, is wat ons in hierdie dae van ontnugtering met sommige van ons nasionale leiers, die devaluasie van ons geld en die verwoesting van oorloë wat op verskeie kontinente gevoer word, sal dra. Jesus het gesê: ‘Wees dus waaksaam, want julle weet nie watter dag julle Here kom nie’ (Matteus 24:42 NLV). Met ander woorde, wees op jou hoede, maar moenie bang wees nie.

Admiraal James Stockdale het agt uitmergelende jare in ‘n Vietnamese kamp vir krygsgevangenes deurgebring. Wat het hom gedra? Hy het gesê: ‘Ek het nooit geloof in die einde van die storie verloor nie. Ek het nooit daaraan getwyfel dat ek nie net huis toe sou gaan nie, maar ook dat ek op die ou einde sou oorwin en die ervaring in ‘n bepalende gebeurtenis in my lewe sou verander, wat ek in retrospeksie nie vir iets sou verruil nie.’ Toe hy gevra is: ‘Wie het dit nie gemaak nie?’ het Stockdale geantwoord: ‘Dis maklik. Dit was die ouens wat gesê het: ‘Ons gaan Kersfees by die huis wees.’ Kersfees sou kom en gaan. Dan sou hulle sê: ‘Ons gaan Paasfees by die huis wees.’ En Paasfees sou kom en gaan. Later sou dit weer Kersfees wees. Hulle is uiteindelik dood aan ‘n gebroke hart.’

Die moed om tussen die twee uiterstes van huidige moeilikheid en uiteindelike triomf te staan, word in hierdie woorde van die Skrif gevind: ‘ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun…’ (Hebreërs 12:2 NLV). Die Een by wie jy jou begin ontvang het, waarborg jou ‘n glorieryke oorwinning.

Sielskos: Gen 7-9; Luk 6:17-26; Ps 104:24-35; Spr 3:11-12