Wie gee jou raad? (2)

2022-12-17
Spreuke 15:22 NLV

‘n Goeie raadgewer doen drie dinge: hulle neem jou waar, onderrig jou en motiveer jou. Aan die begin mag die gedagte aan iemand wat jou evalueer intimiderend wees. Dink egter so daaraan; mense hou jou in elk geval dop. Hier is ‘n lys van areas waar jy dit mag oorweeg om ‘n raadgewer uit te nooi om jou te evalueer: geestelike groei, persoonlike dissipline, familieverhoudings, besluitneming, die hantering van finansies, konflikoplossing, om die regte mense te kies, om verkeerde gewoontes te verbreek en regte gewoontes daar te stel, doelwitstelling en toekomsbeplanning.

As jy ernstig daaroor is om sukses te behaal, kyk uit vir ‘n omgewing waar jy nie net ‘n salaris sal verdien nie, maar ook gementor sal word. Aan die begin is wat jy leer belangriker as wat jy verdien, omdat dit wat jy vroeg leer dit wat jy later verdien, sal bepaal. Dit wat jy nie weet nie, kan jou seermaak en ‘n demper op jou potensiaal plaas. Om deure van evaluasie oop te maak is iets wat jy jouself en diegene wat op jou staatmaak, skuld.

Moet dit ook nie by jou laat eindig nie. Gee dit wat aan jou gegee is, weer vir iemand anders aan. Jesus het gesê: ‘…Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet’ (Matteus 10:8 AFR83). ‘Maar ek is te jonk, niemand gaan my ernstig opneem nie,’ sê jy. Paulus het vir Timoteus gesê: ‘Moenie dat enigiemand minder van jou dink omdat jy jonk is nie. Wees ‘n voorbeeld vir alle gelowiges…’ (1 Timoteus 4:12 NLV). Dit is nie jou verantwoordelikheid om alles te weet nie; jy is slegs verantwoordelik daarvoor om dit wat jy wel weet, met ander te deel. Vra dus vir God vir ‘n goeie raadgewer en word ook een vir iemand anders.

Sielskos: Neh 1-4; Joh 17:13-26; Ps 105:23-36; Spr 30:15-19